Back

ⓘ Hawenavigasie




                                     

ⓘ Hawenavigasie

Hawenavigasie word deur die plaaslike owerheid beheer en behels onder meer die loods van groot skepe in hawens in en daaruit, op groot riviere of deur moeilike kanale. Die hawenavigasiediens se pligte sluit ook in die afbakening van vaarwaters. Kusverligting soos vuurtorings, radarinstallasies aan wal, wal die skepe in slegte weer help om in die hawe te beweeg, en die vasmeer van skepe by hulle aangewese lêplekke langs die kaai ressorteer ook daaronder. Die diens moet ook die waarskuwingsposte langs die kus, wat gevaarlike plekke by byvoorbeeld die hawe-ingang aandui, in stand hou en moet die skepe naby die hawens in kennis stel as stormagtige weer aan die kom is. Dit is onmoontlik vir n groot skip om sonder haweloodse en sleepbote vas te meer, en Suid-Afrika het van die bes gekwalifiseerde haweloodse en van die gevorderdste sleepbote ter wêreld.

Suid-Afrikaanse hawetoestande en ontwikkelings in die skeepvaart verg uiters baie ervaring, behendigheid en vaardigheid van haweloodse. Wat skepe betref, het die tonnemaat byvoorbeeld geweldig toegeneem. In die Tweede Wêreldoorlog was tenkskepe van 15 000 ton die grootste, maar teen die laat vyftigerjare het die tonnemaat al tot 100 000 toegeneem. Vandag is sommige tenkskepe, ertsdraers, ensovoorts, reeds meer as twee keer so groot en besoek hulle een of meer Suid-Afrikaanse hawens met hulle vragte olie, ystererts en ander grootmaatgoedere.

Skepe van die grootte beweeg baie moeilik in hawens, veral in die soos Tafelbaai, waar die sterk wind sake nog verder bemoeilik. Dit is op die gebied waar die hawenavigasiediens met kragtige sleepbote en ervare haweloodse n onontbeerlike rol speel. Ander probleme waarmee die haweloodse te kampe het, hou verband met die feit dat die meeste groot skepe wat Suid-Afrikaanse hawens aandoen, gewoonlik ʼn groot deel van hul vrag buite die hawe ontskeep om die gevaar wat sandbanke inhou, te verminder. Dit stel die oseaanreuse, waarvan die brûe soms tot 40 m bokant die wateroppervlak is, baie meer bloot aan die effek van dwarswinde in die hawe. In Durban, waar die nou hawe-mond binnekoms reeds bemoeilik, kan n sterk noordoostewind ʼn stroom veroorsaak wat skepe se navigasie tussen die ander skepe deur bemoeilik. Terselfdertyd kan ʼn sterk suidwester weer die stroom in n gevaarlik kort tydjie na die ander kant toe laat vloei. Elke Suid-Afrikaanse hawe het sy eie navigasiegevare waarmee die hawenavigasiediens rekening moet hou.

                                     

1. Haweloodse

n Hawe se loodsdiens se hoofdoel is om skepe veilig in en uit die hawe, deur moeilike vaarwater, te kry. Die haweloodse gaan buitekant die hawe aan boord; dit kan vanaf n loodsboot met behulp van n hidrouliese leer geskied. Die haweloods se funksie is om die skeepskaptein van raad te dien sodat die skip uiteindelik veilig by die bestemde plek kan vasmeer. Die haweloods moet uit die aard van die saak hoogs ervare wees en die betrokke hawe uiters goed ken. Benewens n grondige kennis van hawenavigasie, moet die haweloods goed op die hoogte wees van al die besonderhede van die vaargebied in die hawe, soos hoe diep of vlak die water op n gegewe tydstip is, die presiese ligging van die sandbanke en skeepswrakke, die invloed van die getye, die winde en seestrome, die bakens en boeie, die plaaslike hawewette en regulasies, seine wat in die betrokke hawe gebruik word, skepe se hanteringsvermoe en beweegkrag, ensovoorts.

In Suid-Afrika moet n haweloods n houer van n meesterseemansertifikaat wees. Hoewel die loods in die praktyk meestal regstreeks bevele aan die stuurman gee, bly die skeepskaptein in alle omstandighede verantwoordelik vir die veiligheid van die skip. Die skeepskaptein kan byvoorbeeld die bevele van die haweloods ignoreer, maar dit gebeur uiters selde. Ingevolge hawewette is die plaaslike owerheid nie aanspreeklik vir enige skade wat deur haweloodse veroorsaak word nie.

Dit is net in gevalle van growwe nalatigheid of moedswilligheid aan die kant van die loods dat die hawe aanspreeklik gehou kan word. Skepe uit die oop see wat n hawe wil binnegaan, hys n loodsvlag of stuur n radiosein dat n loods aan boord benodig word. Die loodsstasie, waar die loodsboot is, ontvang die sein en stuur die loodsboot met die loods uit na die skip. As die weer te swak is en daar nie vir kalmer weer gewag kan word nie, kan n skip toegelaat word om sonder n loods klaar te kom omdat dit uiters gevaarlik is om aan boord te gaan in storm weer. Skepe wat uit die hawe vertrek, neem die loods by die vasmeerplek aan boord. Die loodsboot vergesel die skip tot in die oop see ten einde die loods terug te bring. Alle vaartuie is nie verplig om van loodse gebruik te maak nie. Die regulasies verskil dikwels van hawe tot hawe, maar oor die algemeen word oorlogskepe, visserskuite, jagte en reddingsvaartuie nie verplig am loodse te gebruik nie.

                                     

2. Hawesleepbote

Dit is onmoontlik om n werklik groot skip sonder die hulp van sleepbote vas te meer. Sleepbote word ingespan om die stukrag en trekkrag te verskaf wat nodig is om die oseaanreuse tussen die ander skepe deur na die vasmeerplek te beweeg. Sleepbote moet baie beweeglik wees, en daarom word hulle deesdae al hoe kleiner gebou maar terselftertyd al hoe kragtiger So n boot kan dikwels in 11 sekondes tot stilstand kom in n afstand wat net n bietjie langer as sy lengte is. Die gemiddelde lengte van die moderne sleepboot is 36 m.

Die haweloodse is gedurig in radioverbinding met die sleep bote, wat onmiddellik die haweloods se bevele uitvoer terwyl die groot skepe in die hawe rondbeweeg. n Sleepboot kan byvoorbeeld op die bevel van n haweloods binne 40 sekondes n volle sirkel beskryf, n mate van beweeglikheid wat onontbeerlik by hawenavigasie is. Sonder die sleepbote sou van die groter skepe trouens nie eers by sommige Suid-Afrikaanse hawens kon inkom nie.

                                     

3. Bakens

Veral in Europese hawens speel bakens en betonwerke ʼn groot rol om die hawens te beveilig en hawenavigasie te vergemaklik. By die talle rivierhawens is dit noodsaaklik om die skepe te waarsku teen modderbeddings, sandbanke en ander obstruksies. Bakens kan aan die oewer of drywend in die water geanker wees en dien as verwysingspunt by hawenavigasie of bloot om skepe teen obstruksies te waarsku. As daar n kabel onder die water is, word n kabelbaken gele met aanduidings aan die bokant aan watter kant van die baken die skip moet verbyvaar. Die tekens is dieselfde as die wat op die dryfbakens, ook boeie genoem, gebruik word. Sulke bakens word ook van ligte voorsien en dikwels ook van radarreflektors, sodat dit snags sigbaar is en duidelik op die skepe se radar wys.

                                     

4. Kusverligting

Die verligting van die kus, wat hoofsaaklik uit vuurtorings bestaan, val ook onder die hawenavigasiediens alhoewel die oorgrote meerderheid vuurtorings nie by hawens is nie. Net soos wat die geval by bakens is, dien vuurtorings of as waarskuwing vir skepe of as navigasieverwysingspunte. Ligboeie, wat ook met radarreflektors toegerus is, word ook in die oop see gebruik. Die moderne vuurtoring werk outomaties. n Spesiaal ontwerpte horlosie of sonklep n soort liggevoelige sel sorg dat die vuurtoring se lig aan- en afgeskakel word.

Die toerusting hou noukeurig tred met die lengte van die dag en nag. Ligskepe, wat in der waarheid drywende vuurtorings is, word ook gebruik vir waarskuwings- en navigasiedoeleindes. n Ligskip is ʼn geankerde vaartuig wat toegerus is met n liginstallasie. Dit word gewoonlik by vlak, gevaarlike waters gebruik of by besige kruispunte en ook by die ingang na hawens. Die liginstallasie werk op dieselfde beginsel as die van ʼn vuurtoring. n Ligskip word met sleepbote na sy bestemming gebring en die bemanning doen ook uitkykdiens en versamel meteorologiese gegewens.



                                     

5. Stormwaarskuwings

Dit is ook deel van die hawenavigasiediens se pligte om skepe wat n hawe nader, te waarsku as die weer stormagtig is. Stormagtige weer kan rampspoedige gevolge in n hawe hê en maak hawenavigasie n uiters gevaarlike proses. Die waarskuwings kan met behulp van visuele seine of per radio na die skip gestuur word. Die tyd wat n skeepskaptein tot sy beskikking het, sal bepaal of hy gaan wag vir kalmer weerstoestande en of hy dit wel gaan waag om die hawe binne te gaan. Vir visuele seine kan vlae, figure of ligte gebruik word, terwyl die plaaslike radiodiens ook die hawe-radiodiens kan bystaan deur stormwaarskuwings uit te send.

                                     

6. Radar

Radar is een van die belangrikste hulpmiddels by hawenavigasie. Die soorte radar wat gebruik word, is die skeepsradar en die kusradar. Radar is onmisbaar by hawenavigasie, veral as die sig swak is en/of die hawe besig is. Kusradar het die voordeel bo skeepsradar dat dit, omdat dit hoer gelee is, n grater gebied dek. Die kusradar is gedurig in verbinding met die haweloods op n skip in die hawe. Ten einde sake nie te kompliseer nie, en ter wille van sekere wetlike oorwegings, vermy die kusradar se personeel dit om bevele regstreeks aan die skeepskaptein of stuurman te gee. In hierdie verband het die haweloods aan boord, wat dikwels op die skeepsradar staatmaak, die hoogste gesag.

Die talle bakens en radarreflektors in die hawe dien as kruisverwysingspunte by hawenavigasie wat van radar gebruik maak. Die radar wat in die hawe gebruik word, is kortafstandradar, wat n kleiner gebied dek maar terselfdertyd van die kleinste objekte in die water kan opvang. Die haweloods maak op helder dae dikwels regstreeks op gesig staat, maar as die sig swak is, moet hy en die skip se navigasieoffisier die radarskerm goed dophou. Die eggospitse op die skerm word gebruik om die beweegrigting te bepaal.

n Skip kan byvoorbeeld op grond van die ooreenstemmende eggospits op die skerm geïdentifiseer word en dan kan, volgens die rigtingwysers op die skerm, bepaal word hoe die sleepbote die skip moet stuur om die eindpunt te bereik. Die kusradar dek op sy beurt ʼn wyer gebied as die skeepsradar en help om n geheelbeeld van die skeepsituasie in n hawe en omgewing te gee, wat die haweloods baie kan help met die rondbeweeg van die skip tussen die ander skepe deur na die kaai. Die kusradar en die skeepsradar se kruisverwysingspunte kan ook per radio vergelyk word om noukeuriger navigasie te bewerkstellig. Oorlogskepe, wat nie verplig is om loodse aan boord te neem nie, moet swaarder steun op radarnavigasie in die hawe; die uitgebreide radartoerusting wat die militêre vaartuie het, vergemaklik egter die hawenavigasie aansienlik. Nie net voorwerpe in die hawe self word as verwysingspunte vir radarnavigasie gebruik nie, maar ook hoe konstruksies by die hawe, asook berge, rante, ensovoorts.