Back

ⓘ Hoba-meteoriet




Hoba-meteoriet
                                     

ⓘ Hoba-meteoriet

Die Hoba-meteoriet is die grootste meteoriet in een stuk wat al ontdek is. Dit lê op die plaas Hoba-Wes, 19 km van Grootfontein in Namibie. Dit is oopgegrawe, maar vanwee sy groot massa van meer as 60 ton is dit nooit verwyder van waar dit geval het nie. Dit is ook sover bekend die grootste stuk natuurlike yster op die Aarde se oppervlak. Die naam "Hoba" kom van Khoekhoegowab en beteken "geskenk". Dit is in 1955 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

                                     

1. Impak

Die impak van die Hoba-meteoriet het vermoedelik maar so 80 000 jaar gelede plaasgevind. Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat die Aarde se atmosfeer die voorwerp se snelheid so vertraag het dat dit die oppervlak teen terminale snelheid getref het – dit het veroorsaak dat dit nie in stukke gebreek het nie en net ’n klein uitholling veroorsaak het. As ’n weerstandskoeffisient van sowat 1.3 aanvaar word, het die meteoor se snelheid tot omtrent 0.32 km/s afgeneem dit is gewoonlik 10 km/s vir soortgelyke voorwerpe. Die meteoriet is ongewoon deurdat dit aan albei groot oppervlakke plat is.

                                     

2. Ontdekking

Die Hoba-meteoriet het feitlik geen krater gelaat nie en is per ongeluk ontdek. In 1920 het die eienaar van die plaas, Jacobus Hermanus Brits, dit gevind terwyl hy een van sy lande omgeploeg het. Brits het die meteoriet beskryf en sy verslag kan in die Grootfonteinse Museum in Namibie gesien word.

Dr. W.J. Luyten het in 1929 die eerste wetenskaplike beskrywing van die meteoriet gegee. Dit is nagenoeg vierkantig in vorm, die bokant is 2.7 x 3 m. Aan die een punt is dit 80 cm en aan die ander punt 1.2 m dik. Die eerste gepubliseerde foto daarvan is deur Friedrich Wilhelm Kegel geneem.

                                     

3. Beskrywing

Die Hoba-meteoriet se massa is in 1920 op 66 ton geraam. Erosie, wetenskaplike monsters wat daarvan geneem is vir navorsing en vandalisme het die grootte oor die jare laat afneem. Die oorblywende stuk is sowat 60 ton swaar.

Die meteoriet bestaan uit omtrent 84% yster en 16% nikkel, met spore van kobalt, koper, chroom en ander minder bekende minerale. Dit word geklassifiseer as ’n ataksietystermeteoriet wat behoort tot die nikkelryke chemiese klas IVB.

                                     

4. Moderne geskiedenis

In ’n poging om vandalisme te beeindig en met die toestemming van die toenmalige eienaar van die plaas het die regering van die destydse Suidwes-Afrika die meteoriet op 15 Maart 1955 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. In 1979 is ook ’n omringende stuk grond van 25 x 25 m by die gedenkwaardigheid gevoeg.

In 1985 het Rössing Uranium Ltd. geld beskikbaar gestel om die meteoriet verder te beskerm. In 1987 het die destydse eienaar die meteoriet en die terrein waar dit lê vir opvoedkundige doeleindes aan die staat geskenk. Later in die jaar het die regering ’n toeristesentrum op die terrein opgerig. Danksy dié ontwikkelings is vandalisme gekeer en besoek duisende toeriste dit jaarliks. Dit kan ook op satellietfotos gesien word.